Groot nuus
BRRAG is nou amptelik die huurder van die Boesmansriviermond Dorpsaal.
As ons in liefde terugdink aan die wonderlike herinneringe uit ons jongdae, toe ons bevoorreg was om saans filmvertonings en danse in die hoogs gewilde Boesmansriviermond Dorpsaal by te woon en aan betekenisvolle gesprekke deur die CSV (Christen Studentevereniging) te kon deelneem, raak ons behoorlik nostalgies. Ongelukkig het die saal weens omstandighede mettertyd in onbruik geraak.
Dit is met vreugde om aan te kondig dat BRRAG onlangs die regte verkry het om die Boesmansriviermond Dorpsaal vanaf Ndlambe Munisipaliteit in gebruik te neem. Dit weerspieël ‘n betekenisvolle stap vorentoe in die ontwikkeling en verfraaiïng van ons dorp, veral in areas wat onderhoud en opgradering nodig het.
Ons is opgewonde om die Dorpsaalfasiliteite ten bate van ons gemeenskappe vir die volgende 10 jaar te kan gebruik. Ons het die Munisipaliteit verlede jaar genader en het nou die finale huurooreenkoms ontvang en geteken.
Die gebou is in ‘n slegte toestand en ons sal skouer aan die wiel moet sit. Die BRRAG-span is tans in die beplanningsfase vir die nodige herstel en onderhoud om die saal na sy vorige glorie te herwin. Ons is dankbaar vir die oorweldigende terugvoering van inwoners en plaaslike besighede, waarvan sommige ruim borgskappe belowe het vir die taak op hande.
Ons doen ‘n beroep op besighede en lede vir ondersteuning: die dak lek, die ablusiegeriewe en kombuis is feitlik onbruikbaar, groot plante groei in die geute en die plek is geensins onderhou sedert die Munisipaliteit om en by 1994 Port Alfred toe geskuif het nie. Maar ons is vasbeslote. Ons vra hulp. Ons het hulp nodig omdat ons twee werkers ‘n besige skedule vir dorpsonderhoud ook moet volhou en nie die taak alleen kan behartig nie. Wie kan help met die badkamers en kombuis? Wie kan help met die vloere? Wie kan help met die skraap en aanbring van stopverf vir die venters? Knipslotte, slotte en handvatsels het aandag nodig.
Die elektrisiteit- en loodgieterstelsels moet nagegaan en opgegradeer word. Brandbeheerapparaat bestaan nie. Ons het tafels en stoele nodig. Baie verf (en verwers) word benodig. Het iemand dalk ‘n klavier wat na ‘n nuwe tuiste soek? Soos wat ons die ou gebou begin gebruik, sal die behoefte aan baie meer regstellings duidelik word. Kom asseblief na vore en bied hulp aan. Bring die huishulp, tuinier en onderhoudsman saam en kom kyk hoe julle kan help om die plek so gou as moontlik weer in ‘n bruikbare toestand te kry. Ons “geboubestuurder”, Michael Vermooten, woon in die trein langs die saal en kan met aanbiedinge van hulp genader word.
Skenk asseblief ruim in die BRRAG-rekening met verwysing “Saal”. Alle fondse wat geskenk word, sal geoormerk word en vir herstel en onderhoud van die saal gebruik word.
BRRAG
Standard Bank
Rekeningnommer 281116393.
Ons sal ‘n eenvoudige bord ontwerp en by ons nuwe kantoor (ja!) se ingang oprig om erkenning te gee aan substansiële donateurs.
Ons is besig om ‘n skedule van tariewe vir die huur van die saal saam te stel en navrae kan na ons gewone eposadres gestuur word: bushmansratepayers@gmail.com. BRRAG-lede kry voorkeur.
As jy dalk in die omgewing is, nooi ons jou om die saal te besoek en eerstehands te sien watter vordering gemaak word deur ons toegewyde spanne met die opgradering en onderhoud. Jou teenwoordigheid en ondersteuning sal hoog waardeer word.
Wees verseker dat ons lede deurgaans goed ingelig gehou sal word ten opsigte van die algehele vordering van hierdie betekenisvolle en opwindende onderneming. Saam kan ons die Boesmansriviermond Dorpsaal laat herleef en ‘n lewendige ruimte skep vir die hele gemeenskap om te geniet.
Onthou ons leuse: Saam maak ons die verskil.
Kariega Wildsreservaatnuus
Lees asseblief die nuus oor die uitbreiding van die Kariega Wildsreservaat hier.
“Into the thick of it” gebeurtenis
Laastens
Niks groots is al ooit bereik sonder entoesiasme nie.
Die BRRAG-SPAN