Van die Redakteur

Welkom by die tweede Nuusbrief van die jaar.

Februarie en Maart, wat ‘n dol tyd in Boesmans, ‘n tyd van sonskyn, donderstorms, sterk winde, Valentynsdag vir romantiek, die groet van Jacob en verwelkoming van Cyril, ‘n baie nat en stormagtige maandeindbraai, vee wat in in die dorp wei, die uiters noodsaaklike herstel van die Mouton wandelpad by die uitkykpunt in Ocean View Drive, en geregtigheid in die derde toets by Nuweland. Soos die ou gesegde lui: “Kierankies sal braai!”

So, kom ons begin by die herstelwerk aan die wandelpad. Die wandelpad het die afgelope paar jaar baie skade opgedoen en agteruitgegaan sodat strukturele herstel en opgradering nodig geword het. So het Corrie Swanepoel en sy werkers binne twee weke die ou struktuur verwyder, die houtplanke vervang en ekstra versterking aangebring om dit meer stabiel te maak. Sodoende was dit gereed vir die Paasvakansie. Meer foto’s sal binnekort op ons belastingbetalerswebruimte, www.brrag.com wees. Kyk gerus!

Gemeenskap se Maandeindebraai

Freddy Mercury en Queen het hulle musiekloopbane met die welbekende Bohemian Rhapsody begin wat die volgende liriek insluit: “Thunderbolts and lightning very, very, frightening”. Dit som basies ons Februarie Gemeenskapsbraai op, met kragonderbrekings en stortreën daarby.

Maar ons was nog nie reg om die handdoek in te gooi nie. Ons het voortgegaan en tot ons verbasing gesien hoe ons waaghalsige maar wonderlike inwoners die elemente trotseer om by die klubhuis uit te kom. Hulle het met hulle kos en drank, lanterns en selfs musiek gekom om te sorg vir ‘n uitsonderlike aand onder moeilike omstandighede. Selfs die 100Klubtrekking is gedoen met Mike White wat 1ste prys, Marietjie Marais 2de , Andrew Murry 3rde, Anton Mclean 4de en Corrie Swanepoel 5de (bywoning) gekry het. So, baie dankie aan almal wat die elemente trotseer het en vir so pretaand gesorg het. Ons volgende maandeindbraai is op Vrydag, 27 April 2018 om at 18:00.

Notas uit die Voorsitterstoel

John Wesley

Ons het tot dusver ‘n wonderlike herfs ervaar met die mooiste dae en geseën met gereelde harde reënbuie. Dit het die gewone dooie bruin en vaal bos en veld omvorm tot ‘n welige groen, net betyds vir die Paasvakansiegangers. Die instandhoudingspan onder leiding van Corrie Swanepoel het ‘n moeilike taak gehad om die gewone grassny gedoen te kry met die Mouton wandelpad se opgradering wat terselfdertyd vir Paastyd gereed moes wees. Ons het weereens die vrygewigheid van betrokke lede ervaar toe Pieter Mouton en Lorraine Campbell-Loader ruimhartig bygedra tot die herstel van die wandelpad. Trouens, Pieter het ook die arbeid en material verskaf om die plaveisel om die “Skinderboom” te herstel. Baie dankie aan hierdie vrygewige mense want daarsonder sou BRRAG moeilik die instandhouding van die dorpie op die huidige standaard kon volhou.

BRRAG is steeds in gesprek met die Munisipaliteit, sy dit direk, via die Wyksraadslid of die Ndlambe Ratepayer’s Forum (NRF). Ons huidige fokus is om die Munisipaliteit se aandag te vestig op die wetlike verantwoordelikheid teenoor vullisverwydering, veral groen afval wat deur huiseienaars agtergelaat is na hulle vertrek gedurende die vakansie. Ons het ook versoek dat die Munisipaliteit die onooglike kennisgewings die by ingang van ons dorpie moet verwyder. Vooruitgang is stadig, maar ons maak vordering. ‘n Voorbeeld is die verwydering van die boomtakke op die hoek van Krogscheepers- en Mainstraat deur die Munisipaliteit op ons versoek omdat dit ‘n ernstige verkeersgevaar was. Die enigste probleem was dat die direktoraat nie die groen afval op die sypaadjie kon verwyder nie,wat die risiko vir sowel voertuie as voetgangers verhoog het. Gelukkig vir BRRAG, was Bill Northrop terug van sy reise en het hy dadelik ingespring om die gemors van die Munisipaliteit op te ruim.

Ons kan dus nie altyd die resultate kry wat ons soek nie, maar ons sal aanhou om meer diens van die Munisipaliteitte kry.

Verslag : Gemeenskapsfondsinsameling

Ons Kunsmark het in die Paasnaweek op Saterdag plaasgevind. Met mooi weer en goeie opkoms van sowel stalletjiehouers as vakansiegangers, was dit ‘n suksesvolle mark en fondsinsamelingsgeleentheid. Baie dankie aan almal wat op ons versoek gereageer het en items vir ons Witolifantstalletjie geskenk het. Al die inkomste van hierdie stalletjie gaan vir die instandhouding van ou Boesmans en Riversbend.

Ter afsluiting net die volgende. Ek het by ‘n groepie plaaslike inwoners (almal Suid-Afrikaners) gestaan en ‘n nuweling in Boesmans vra, toe hy my uitspraak hoor, of ek Engels is. Ek het blitsvinnig geantwoord, “Nee, eintlik Australies, maat na die krieket het ek my aksent verander.”

Seisoenale Sekuriteitsverslag

John Wesley, Gerald Schmidt en Sheila Swanepoel Portfolio

Ons is baie tevrede om verby die Paastyd te kom sonder enige ernstige kriminele insidente in die Boesmansgebied. Hiervoor kan ons die samewerking van die gemeenskap, Hi-Tec Sekuriteitsdiens en veral die SAPD bedank vir hulle deurlopende dryfveer om misdaad te beveg, nie net in Boesmans nie, maar in die gebied as geheel insluitend die omliggende dorpsuitbreidings.

Die enkele insident van huisinbraak in Boesmans by ‘n huis met gebrekkige sekuriteit beklemtoon net weer die noodsaaklikheid om voorsorg te tref vir die veiligheid van ‘n huis en besittings. Dit spreek vanself dat die slagoffer van die inbraak sedertdien die huis se sekuriteit opgegradeer het.

Ongelukkig moet ons verslag doen van twee insidente in Kenton-on-Sea wat die werklike weerloosheid van senior burgers uitbeeld vir kriminele wat hulle dophou. In beide gevalle is die mense vroegaand aangeval toe hulle by die huis aangekom het. In een geval is die slagoffer wreed aangeval sodat sy in die hospital in Port Elizabeth opgeneem moes word, met net haar handsak wat gesteel is. Die tweede geval is amper nie aangegee nie want die slagoffer is aangeval toe sy by haar eiendom ingestap het. Gelukkig het sy haar paniekknoppie gedruk want sy hou dit altyd by haar en die inbrekers het gevlug toe die alarm afgaan sonder om haar te beseer. Sy het dit nie by die polisie aangegee nie omdat sy geen skade gelei het nie. Die polisie versoek egter dat enige insident gerapporteer word hoe klein die misdaad ookal is omdat misdadigers selfs hiervoor gestraf kan word en die inligting dra ook by tot die misdaadintelligensieprentjie van die SAPD. In hierdie verband het BRRAG ‘n skootrekenaar aan die SAPD geleen vir gebruik by die SAPD Kenton-on Sea se Misdaadintelligensiekantoor om die Link App te gebruik. Link stel die Misdaadintelligensieseksie in staat om baie vinniger ‘n omvattende misdaadintelligensieprentjie op te bou met data wat deur die gemeenskap en ander bronne verskaf word.

Die dramatiese afname in die misdaadsyfer sedert die inwerkingstelling van Link by die SAPD is opmerklik. Dit is egter nog te vroeg om enige afleidings te maak oor die impak van Link op die misdaadsyfer, maar die SAPD offisiere is baie tevrede om dit tot hulle beskikking te hê. BRRAG sal volhou om lede aan te moedig om Link as die primêre sosiale media stelsel te gebruik om misdaad aan te meld. Soek net vir “Link-powered by Vodacom” en installeer dit.

Op ‘n ligter noot: oor die Paasnaweek was daar groot opgewondenheid toe ‘n helikopter oor Riversbend gevlieg het. Dit het aanvanklik fronse veroorsaak maar het gou tot opgewondenheid gelei toe sosiale media berig dat daar gesoek word na ‘n buffel wat uit ‘n aangrensende wildspark ontsnap het. ‘n Plaaslike inwoner, Vanessa Gibson, het op Facebook berig: “You know you live in a small town when the helicopter circling your neighbourhood is looking for two escaped buffalo and not hijackers.”

Wat Vanessa nagelaat het oor die lewe in ‘n klein dorpie was om by te voeg dat jou Sondagmiddagete onderbreek word deur ‘n vlaag van aktiwiteit op die WhatsApp sekuriteitskanaal, telefoonoproepe en sms’e wanneer ‘n Rinkhals besluit om by iemand se huis te kom kuier en jou man dit moet gaan vang en tussen die hoofgereg en nagereg êrens gaan loslaat. (Die volle storie is verderaan).

Ons bly dankbaar dat insidente soos hierdie die hoogtepunt van die gemeenskap se sekuriteitsvrese is.

Gemeenskapskamerafonds

Gerald Schmidt

Inleiding

 

In 2010, na die tragiese poging tot diefstal en moord op ‘n inwoner van Kenton-on-Sea, is voorgestel om sekuriteitskameras op te rig en te monitor in die dorpie. ‘n Komitee is saamgestel met Jeremy Turner as voorsitter en Hi-Tec Coastal Security en verteenwoordigers van inwoners en huiseienaars.

Doelwit

 

Die komitee se doelwit was om sekuriteitskameras oral in die residensiële en sakegebiede te verskaf, te installeer, te monitor en te onderhou. Die fonds was spesifiek ontwerp om sekuriteitsvoordele aan alle inwoners en besighede te bied en sou privaat gefinansier wees.

Koste/Bydraes

In 2010, is aanvanklik op ‘n bedrag van R15.00 per maand per huiseienaar (of huishuurder) besluit. Vanaf 1 Januarie 2018 is hierdie bydrae wat agt jaar lank in werking was, verhoog na R30.00/maand. Alle inwoners en huiseienaars word aangemoedig om tot die fonds by te dra. Fakture en debietorders word deur Hi-Tec beheer en in ‘n afsonderlike kamerafondsbankrekening inbetaal. Die finansies word deur ‘n ouditeur nagegaan.Die kameras word dag en nag gemonitor en saam met al die inligting op rekord is dit waardevolle stof om misdaad te beveg en voorkom. Verder is die blote teenwoordigheid van die kameras ‘n afskrikmiddel vir moontlike misdadigers. Daar is statistiek beskikbaar van die kameras se effektiwiteit.

Die kamerafondskomitee kom maandeliks bymekaar en besluit oor waar kameras nodig is, met die tipe kameras wat afhang van beskikbare fondse en vereistes. Daar is tans 76 sekuriteitskameras oral in Kenton, Boesmans, Riversbend en Merry Hill omgewings wat deur Hi-Tec gemonitor en instandgehou word. Dit het egter gou duidelik geblyk dat om effektief te wees, ‘n voltydse toegewyde span vir die monitering van die kameras nodig was. Dit het sedert 1 November 2017 in werking getree. Dit impliseer egter kostes en saam met die verhoging van verskaffers en instandhouding vereis dit addisionele fondse. Let asseblief op dat die kameras opgerig word tot sowel private persone as besighede se voordeel en deur die kamerafonds betaal word. Die fonds sal egter ook op versoek in sekere gebiede kameras installeer en monitor vir individue en besighede. In hierdie gevalle is die koste van voorsiening en oprigting vir die spesifieke individue en besighede se rekening. Om onkostes te dek, moes ons die maandelikse bedrag van individue se bydrae verhoog na R30.00/maand (soos hierbo). Ons is tans in gesprek met die Sakekamer om ooreen te kom oor kostes wat hulle lede moet betaal.

Soos reeds genoem, wil ons dit beklemtoon dat bewyse daar is dat hierdie projek van onskatbare waarde is in die bevegting van misdaad, en alle gemeenskaplede word aangemoedig om die projek te ondersteun. Al het u dalk nie die inligtingskamera nou nodig nie, wat van in die toekoms?

Tans is die Kamerafondskomitee soos volg:

Naam Posisie/Verteenw Selno. e-pos
Mike Peter Voorsitter 082 550 3537 mjpeter@mweb.co.za
Esté Franz Sekretaris/Riversbend 084 507 0383 info@kenton.co.za
Gerald Schmidt Tesourier/BRRAG 083 625 3764 schmidt@hotmail.co.za
Andrew Warren Sakekamer 082 398 0285 andrew@capefronteir.com
Andrew de Jager Sakekamer 071 136 6999 ajdejager@mweb.co.za
Mike Sparg Merry Hill Estate 084 586 5175 meg@border.co.za
Andrew Butters Hi Tec 082 652 2652 andrew@hitecsecurity.co.za
André Wille Hi Tec 083 277 0800 andre@hitecsecurity.co.za
Chris Barnard Hi Tec 071 897 6979 chris@hitecsecurity.co.za

As u nog nie bygedra het nie en graag wil, kontak asseblief vir Sherry by Hi-Tec (046 636 1660) of Gerald Schmidt (083 625 3764)

Lidmaatskap

Let asseblief op dat ledegeld van R300 inbetaalbaar is by Standard Bank, Rek. 281 116 393 met verwysing: Lid/ jou straatnommer en straatnaam. Bv. Lid/21 Main. .

Algemene inligting : Gemeenskap

Vee in die dorp

Ons ken die uitdrukking dat die gras aan die anderkant altyd groener is, en so het ons in Februarie rondlopervee al langs Rivierstraat, Mainstraat en ander dele van die dorp gehad wat in die welige groen gras tot hulle beskikking gewei het. Al klink en lyk dit na iets om te glimlag, het ons dit by die gepaste gesagsliggaam gerapporteer. Niemand wil in die aand in ‘n trop vee vasry nie

Pasop, dis ‘n slang!

Hoeveel mense weet dat ons ons eie slangvanger hier in Boesmans het? Nee, dis nie die ou van die Slangpark in die stad nie, dis Warren Gibson.

Warren, ons slangvanger, het reeds mense in Natures Landing en Riversbend gehelp deur die slange te vang en weg van menslike woonareas losgelaat. Die slang in hierdie foto is ‘n Rinkhals (Hemachatus haemachatus). Dit word sowat 1m lank maar kan 1.5m of meer word en is baie gevaarlik. Warren het ook Pofadders gevang en losgelaat uit dieselfde gebied. Hy glo in die gemeenskap en sy dienste was tot nou toe gratis en hy verkies donasies vir die instandhoudingswerk in Boesmans, wat Riversbend en ons dorpie Boesmansriviermond insluit. As ‘n slang jou pad kruis en jy weet nie wat om te doen nie kan jy vir Warren by 083 548 0946 skakel.

As ‘n opvolgberig is daar die insident van Warren se hond (genaamd Rogue) wat in die gesig deur ‘n pofadder (bitis arietans) gepik is. Die hond het die slang aangeval en doodgemaak maar nie voor hy op sy bek gepik is nie. Hy is veearts toe geneem waar teengif toegedien is. Teen Sondag is die hond huistoe maar steeds baie siek en sal moontlik in die toekoms ‘n operasie moet ondergaan om beskadigde weefsel te verwyder. Alles as gevolg van die pofaddergif. Pofadders is uiters gevaarlik, en baie aktief na sononder, en is tans baie aktief in ons omgewing. Mense met honde en kinders moet op hulle hoede wees veral in bosagtige gebiede en snags op die teerpad. Gebruik altyd ‘n flits in die aand.

Op die paaie – In die motor

Twee insidente van padwoede in Boesmans wat sowel onplesierig as totaal onnodig was, het plaasgevind. So, as iemand dink daar is nie ’n spoedbeperking in Boesmans nie, dink weer. Die spoedbeperking is 40 km/h. By die ingang van Boesmans is duidelik in geel op die pad gemerk: 40km/h.

In ‘n botsing waar ‘n motor in ‘n boom vasgery het, het die motor die ergste daarvan afgekom, maar niemand is beseer nie. Bestuur asseblief versigtig in ons dorpie.

Nuus uit Riversbend.

Dalien Pachonick en Kevin Bates

Daar is ernstig in gesprek getree met Ndlambe Munisipaliteit oor die gebrek aan dienslewering in verskeie gebiede. Kevin en Dalien het aktiwiteite vir die jaar bespreek en een van die items vloei uit die heerlike reën wat geval het. Kevin kan nou aangaan met die spuit van indringerplante.

Lede van Riversbend wat nog nie hulle jaargeld van R300 vir 2018 betaal het nie kan dit asseblief sou gou moontlik doen. Vir wie reeds betaal het, baie dankie. Help asseblief om nuwe lede te werf onder vriende en bure. Onthou, hoe meer lede, hoe meer fondse vir projekte in Riversbend.

Daar sal in die toekoms vir u gerief ‘n lidmaatskapvorm by die nuusbriewe ingesluit word. Gebruik dit asseblief!

Get the news first

Join our email list to receive the latest news and updates from our team.

It's free! Click here and subscribe now.

You have Successfully Subscribed!